Bond van die Vermeulen Familie

Placeholder Picture
vermeuelnbond.org vermeulenbond.org

daarstelling van die Geslagsregister

Die samesteling van die Geslagsregister van die Vermeulen Familie in Suider-Afrika is te danke aan die deursettingsvermoë en navorsing van Johannes Petrus (Johan) VERMEULEN van Klerksdorp, wat reeds in 1989 begin het om eers sy eie voorgeslagte na te vors, maar spoedig besluit het om beide stamvaders Jan Willemz VERMEULEN en Dirk Corneliz VERMEULEN na te vors. Hy is vanaf 1996 bygestaan deur sy broer Izak Stefanus VERMEULEN van Randburg.

In die Geslagsregister van die Vermeulen Familie word daar volledig erkenning gegee aan ander Vermeulen afstammelinge wat oor die verloop van jare ook sekere navorsing gedoen het en wie se werk ʼn basis gevorm het vir verdere uitbouiing van die Geslagsregister.

Gedurende Desember 2004 het die eerste druk van Die Geslagsregister van die Vermeulen Familie in Suider-Afrika verskyn en is beskikbaar gestel vir afstammelinge van die Vermeulen familie. Binne ʼn paar maande was die oplaag van 250 boeke uitverkoop.

Die navorsing is nie deur Johan en Izak gestaak na die vrystelling van die eerste druk nie. Hulle kon daarin slaag om addisionele inligting ten opsigte van ʼn groot getal van die afstammelinge wie se besonderhede in die eerste druk van die boek verskyn het, op te spoor asook om verdere besonderhede van huwelike, geboortes en sterftes te bekom. Verder kon hulle inligting van ongeveer 4000 addisionele persone bekom wat in die register opgeneem is. Heelwat meer foto’s van persone, foto’s van grafstene, dokumente, kaarte van plase en foto’s van ou opstalle (1500 in totaal) is bekom. In 2011 word die opgedateerde tweede druk geslagsregister vrygestel. 5088 name van Jan en 17592 name van Dirk word in die register opgeneem.

Daar is ook besluit om die opdateerde register op CD uit te gee weens die feit dat die koste vir die druk van n nuwe boek, so hoog is dat dit nie vir almal bekostigbaar is nie. Daar is wel besluit om ʼn aantal boeke te druk. Hierdie CD en boeke is op 5 November 2011 te Bloemfontein, tydens ʼn Vermeulen byeenkoms bekend gestel.

Johan asook Izak het hul navorsing voortgesit en alle nuwe inligting wat bekom is oor alle Vermeulens is getrou deur Johan aangeteken op die Genealogiese program PAF5 wat hy bygehou het tot sy dood op 20 April 2018. Sy harde werk sal vir altyd behoue wees vir die Vermeulen nageslag en sal ons hom vir ewig dankbaar wees daarvoor.

Op 31 Maart 2019 word daar deur Hennie en Stoffel Vermeulen ʼn opdateerde CD/DVD uitgegee wat al die nuwe inligting tot op hierdie datum bevat d.w.s. 5222 name in die geval van Jan en 18093 name in die geval van Dirk. Die bygewerkte inligting is deur eie navorsing bekom, maar ook veral t.o.v. huwelike en geboortes is die inligting verstrek deur Vermeulen afstammelinge. Baie inligting is nog steeds onvolledig aangesien afstammelinge nie hul gegewens opdateer nie. Wat die registers egter uniek maak is die feit dat die registers en CD's nie net alleen die data bevat van elke individuele Vermeulen nie maar dat dit ook baie interessante stories en gebeure wat deur die Vermeulens verskaf is, bevat. Die CD's bevat ook die foto's van grafte, persone, dokumente ens.

Tans word die databasis van die geslagsregister bygehou deur Hennie Vermeulen op die Legacy 9.0 De Luxe genealogiese program. Die byhou en opdatering van die geslagregister databasis sal nooit stop nie. Daar is voortdurend nuwe inligting t.o.v. sterftes, huwelike en geboortes. Dit is elke Vermeulen afstammeling se morele plig om te sorg dat sy inligting op datum bly en sodoende vir die nageslag aangeteken en behoue bly.

Die registers, CD's ens kan van die Bond aangekoop word. Die pryse van ons registers, CD's ens. dek slegs lopende uitgawes.

Aankope kan HIER gedoen word.
 

Placeholder Picture
Placeholder Picture

Tuisblad | Bond Stigting | Grondwet | Lidmaatskap | Stamvader Jan | Stamvader Dirk | Familiewapen | Erfenis | Byeenkomste | Nuusbriewe |  Kontak Ons | Terme en Voorwaardes

thewebman.co.za