Jan Willemsz VERMEULEN <1>, Utrecht, Nederland ±__.__.1659, † Kaapstad __.__.1713.Jan was die seun (zoon) van Willem en afkomstig vanaf Utrecht ,Nederland. Hy is ca 1659 gebore. Jan arriveer voor 1680 in Suid-Afrika.(Die presiese datum is nie bekend nie, omrede geen rekord in die Kaapstad Argiefbewaarplek bestaan nie en die rekords van die Algemeen Rijksarchief, Den Haag,van die V.O.C. voor 1691 nie bewaar gebly het nie.)
Jan was in diens van V.O.C. as ’n soldaat.
Hy neem ongeveer 1684 sy ontslag uit die diens van die V.O.C. en word ’n vryburger (vryliede) in 1684. Die vryburgers was op eie inisiatief vir ’n bestaan afhanklik. Die wette van die Kaap het egter vrye handel verbied. Die vryburgers moes byvoorbeeld drie dae wag nadat ’n besoekende skip geland het alvorens hul, hul produkte aan die besoekers kon verkoop. In dié tydperk het die V.O.C. dan hul produkte verkoop.
Op 5 November 1685 verskyn Jan in die hof op ’n aanklag van sluikhandel.Een bron meld dat hy bogenoemde wagperiode oortree het, terwyl ’n ander meld dat hy ’n kop kool van ’n slaaf Valentyn van Madgascar gekoop het onwetend dat die koolkop uit die tuin van Luitenant Olof Bergh gesteel is! Die vryburgers was genoodsaak om al hul saad en implemente vanaf die V.O.C. te verkry. Na bogenoemde klag teen Jan, kon hy nie verder ’n bestaan as boer maak nie.
Hy word daarna ’n visser. Die vissers het ’n bestaan gemaak uit die traan van die spek van robbe. Die traan is na Nederland verskeep, dog was die lewe steeds moeilik omrede Nederland traan makliker en goedkoper vanaf Groenland kon verkry. Jan trou in Kaapstad op 07.11.1694 met Catharina VAN BENGALE , * Bengale ±__.__.1663. Catharina VAN BENGALE ook bekend as Catharina OPKLIM.(die van OPKLIM kom egter nie in amptelike stukke voor nie). In die Kaapse doopboek verskyn die volgende inskrywing : “sijn in den huwelijken stant bevestigt Jan Willemse Vermeulen, jonkman geboortigh van Utrecht met Catharina VAN DE CAAP, vry swartinne jongedochter”.
Die volgende inligting dui daarop dat Catharina van Bengale getroud met Jan Willemsz VERMEULEN in alle waarskynlikheid die volgende persoon was. ‘n Catrijn VAN BENGALE, 26 jaar oud, word op 23 Desember 1677 deur Hester WEIJERS van Lier verkoop aan, haar skoonseun, Tobias VLASVATH, vir Rds 80. Catrijn word saam met twee van haar dogters, Martha 6 jr. en Magdalena, 3jr. oud, verkoop. Hierdie Catrijn is dus gebore ca 1651. ( “ Besoeken, slaves and free blacks - p 134”.) Helena Weijers was die weduwee van Wouter Cornelisz MOSTERT, (MOSTAERT), wat op 12 Maart 1684 weer trou met Jan Holsmith VAN SITTER. Tobias VLASVATH was Hester WEIJERS, weduwee MOSTERT, se skoonseun. Tobias se vrou was Grisella MOSTAERT. Vlasvath keer in 1682 na Patria terug. Daar is nie vrystellingsdokumente of bewyse dat Catharina met VLASVATH se vertrek herverkoop is nie. Sy is waarskynlik toe vrygestel. Op 16 April 1681 stel Hester WEIJERS, haar slawe, Manuel en Elizabeth, “geboortig van het landschap van Angola” vry. Martha Manuels is dus in alle waarskynlikheid die kind, wat op 6 jarige ouderdom, saam met Catrijn verkoop word en waarvan Manuel van Angola die vader en Catrijn van Bengale die moeder is. Op 18 Maart 1691 doop Martha Manuels vir Catharina. Getuies : Jan Vermeulen en Maria Bartende (onduidelik). (Dit is dieselfde dag waarop Wilhelmina Vermeulen gedoop word). Op 4 April 1694 : twee slavinne kinderen gedoopt van Jan Holsmidt, waer van de moeder is genaemt Martha Emauels, tot getuige stonden, Sara Claesze en Catarina WILLEMS (sic). Sijn genaemt de eene Jacob, de andere Helena. Op 19 Mei 1695 : een kind van Marta (sic), gent Christiaen, getuigen Jan Willemse Vermeulen en Catharina VAN BENGALEN (sic). Op 10 November 1697 : gedoopt het kind van Marta Manuels slavin van Johannes Holsmit (gewese man van wyle Hester Weijers van Lier, voorheen getroud met Wouter Mostert) waarvan Christian als vader onder getijge van Louis van Bengale en Beatrice Cornelisse van Coetzien (meesal sic) Die kind se naam was Johannes. Op 16 Mei 1700 : een kind van Marta Manuels onder getuige Jacob Maurits en Catharina VERMEULEN (sic) genaemt Willem. Op 15 Februarie 1705 : van Christiaan Mijn en Marta Manuels onder getuijgen van Sybrand Vermeulen en Maria Vermeulen , genaemt Maria Magdalena. Die feit dat Jan Vermeulen, sy vrou en ook van sy kinders optree as getuies by hierdie dope staaf verder die vermoede dat Matha Manuels een van Catharina ( later getroud met Jan) se kinders mag wees.
Na Catharina van Bengale word in sommige geskrifte verwys as : “ Catharina Opklim” Hester WEIJERS se vader was “ Weyert KLIMP” (KLIM). Catharina het dus, waarskynlik per geleentheid, die van OPKLIM gebruik, afgelei van haar eienares se vader se van. In die Kaapse monsterrolle kom die volgende voor : VC39, Vol. 1 Bl. 68. 1685 “ An het Fort” : Jan Willemsz Vermeule; Bl. 100 : 1691 Jan Willemsz Vermeulen Catrijn van Bengale; Bl. 115 : 1692 : Opgaaf nr. 136 : Jan Willemsz Vermeulen; Catrina van Bengalen; 2 seuns, 3 dogters, 2 perde, 1snaphaan, 1 degen. Bl. 135 : 1693 Caabse district Jan Willemsz Vermeulen Catrina Vlasvat 5 kinders. ( Hier gebruik sy haar eienaar se van, naamlik die van, van Tobias Vlasvath. Dit was nie algemene gebruik dat slawe hulle eienaars se van aangeneem/gebruik het nie. Dit dui daarop dat daar ‘n goeie verhouding met die Vlasvath familie bestaan het. Waarskynlik ook met Helena Weijers en haar familie - daarom dat sy ook die afleiding van “KLIMP” per geleentheid as ‘n van gebruik het. By Jan en Catharina se eerste kind, Sijbrand, se doop op 27 Mei 1685 tree daar een van die Mosterts, naamlik Maria Mostert, op as getuie. Nog ‘n bewys van die goeie verhouding wat daar met die Mostert familie en Catharina bestaan het. Op 8 Februarie 1693 word ‘n Catharina van Bengale saam met ander mede-bejaardes gedoop. Op 7 November 1694 vind die volgende huwelik plaas : “ Sijn in den huweljken stant bevestigt Jan Willemse Vermeulen, jonkman geboortigh van Utrecht met Catharina VAN DE CAAP, vry swartinne jongedochter”. Opmerking : Huwelike in die Kaap tussen Blanke mans en heelslagh vrouens is sedert kommissaris Ijsbrand Goske se besoek in 1671 verbied. Die verbod is met Van Reede se besoek, tydens Simon van der Stel se goewerneurskap, hernu. Die Catharina getroud met Jan Willemsz Vermeulen moes dus die owerhede oortuig het van haar halfslaghskap. Sy en Jan Willemsz Vermeulen het egter reeds sedert 1685 tot 1691, voor hul huwelik, vier kinders saam. Die feit dat Europese mans nie met heidene/heelslagh slawe mag trou nie moes egter onder die onstandighede opgeweeg word teen die werklike realiteit. Die twee het saamgewoon en het saam reeds kinders. Dit sou waarskynlik ‘n dominee kon oorreed om hulle in ‘n huwelik te bevestig.
Die verwysing in die huweliksregister na haar as “ Van de Caap” was waarskynlik ‘n handige reëling om so ‘n huwelik “op papier” te regverdig. In alle amptelike dokumente word verwys na die vrou getroud met Jan as Catharina / Catrina / Catrijn VAN BEGALE. Self in Jan Willemsz Vermeulen en haar gesamentlike testament word verwys na Catharina VAN Bengale en nie Catharina OPKLIM nie. Die van, VAN DE CAAP word ook slegs tydens die huwelik gebruik. Indien ons aanvaar dat Catharina van Bengale, verkoop op 23 Desember 1677, dieselfde persoon is as Catharina van Bengale getroud met Jan Willemsz Vermeulen, moet ons in aanmerking neem dat sy in 1677 twee dogters gehad het. Die een Martha, 6 jaar oud, gebore ca 1671, in alle waarskynlikheid Martha Manuels, na wie reeds verwys is en Magdalena, 3 jaar oud, gebore ca 1673.: Toe Jan Vermeulen en Catharina op 7 November 1694 trou moes hierdie kinders dus : Martha, 20 jaar en Magdalena 17 jaar oud gewees het. Jan en Catharina het waarskynlik sedert ca 1684 saamgewoon. Die twee dogters sou in 1684 dus onderskeidelik 13 en 11 jr. oud gewees het. Daar word nie in die Vermeulen huishouding, soos in die geval van Jan Mauritz, na hierdie kinders en ook nie later in hul gesamentlike testament, na hulle verwys nie. Jacob MAURITSZ (MAURITS) ( In die LDS registers word hy aangedui as Jan Maurits VERMEULEN en ook net as Mauritz VERMEULEN - * ca 1697/1698).
Op 12 April 1682 word op die skip Africa ’n kind gedoop deur Bortholomeus Heinen as “Maurits Jacobzn”. Alhoewel die doop waargeneem is deur Heinen is die doopinskrywing gemaak in die handtekening van Ds Johannes Overney. Die moeder word aangedui as : Catharina van Bengale.” Waervan zoude sijn schipper Jacob Maurits de vader, so men segt.” Hy was nie Jan se kind nie,maar word nogtans deur die Vermeulen egpaar as hul kind grootgemaak. In Jan en Catharina se testament en ook in Jan se likwidasie - en distribusierekening gedateer 15 November 1717 is Jacob Maurits een van die erfgename. Daar word na hom verwys as “haar zoon Jacob Maurits, jonkman, uijtlandig”. In die Nederlandse woordeboek, Koenen en Endepols, 1960, kom uitlandig voor as ‘n wisselvorm vir “buitenslands”. Die voorbeeld wat aangegee word is “ ik was toen uitlandig, d.i. in het buitenland”. Hy was dus ca 1713, toe die testament opgestel is, nie in SA nie. “Haar” kon ook die bedoeling gehad het van “ons” zoon Jacob. Daar word bv. ook verwys na “haar overledene zoon Zijbrand Vermeulen” In die “Scheepsgegevens van die schip Africa - 1673”, vind ons oa.; “Die skip Africa is in gebruik bij de VOC tot 23/04/1684 (Vergaan, Indische Oceaan) Gebouwd op de werf te Rotterdam. Laadvermogen 1100 ton” Die Africa was oa. in die Kaapse hawe oor die volgende tydperke : “ 26/05/1680 Goeree Batavia 18/11/1680, Amsterdam, Maarten Wildvank, via; Kaap de Goede Hoop van 18/09/1680 tot 01/10/1680” “26/11/1681 Batavia Goeree 30/08/1682, Amsterdam MAURITS JACOBSZ VAN EIJK, via: Kaap die Goede Hoop van 16/02/1682 tot 28/04/1682.” Met die besoek aan die Kaap gedurende 1682 word die Kaapse resolusies oa. onderteken deur : “Saturdagh den 4 April 1682”, MAURITS JACOBSZ. “Maandagh den 6en April 1682”, Den Schout by Nacht MOURITS JACOBSZ VAN EIJCK’ en Den Fiscaal, TOBIAS VLASVATH.
Uit bogenoemde kan ons dus aflei dat : Die skip Africa, met die doop van die kind, in die hawe te Kaap die Goeie Hoop was. Die vader in bevel van die skip was en waarskynlik verkies het dat die kind op die skip gedoop word. Die kind is waarskynlik met ’n vorige besoek van die kind se vader aan die Kaap, verwek. Dit is duidelik dat Tobias VLASVATH, aan wie Catharina VAN BENGALE, die kind se moeder, behoort het en die kind se vader, mekaar geken het. Die Kaapse monsterrolle dui aan dat die egpaar die volgende getal kinders verstrek het. 1692 : twee seuns, drie dogters (Kinders b1 tot b4) asook Jacob Maurits. 1695 : twee seuns en vier dogters. (Kinders b1 tot b5) asook Jacob Maurits 1700 : twee seuns en 3 dogters). Vir die dogters b2 tot b4 het ons huwelike na 1700- so hulle het aldrie nog geleef in 1700. Vir Jannetje, b5, kon geen huwelik gevind word nie en is daar ook geen verdere rekord van haar nie. Sy is waarskynlik voor 1700 oorlede. Jacob word dus in die opgaafrolle ook as die egpaar se seun aangedui, maar het nooit die van VERMEULEN gedra nie.
DIE VOLGENDE IS VAN BELANG : In SAG, boek 5, bl. 507 kom die volgende voor : “ MAURITZ : Jacob MAURITZ - van Nederland, arriveer 1718 , Burger 1724. Oorlede 25 Maart 1725. Trou 18 Junie 1724 met Clara VAN KONINGSHOVEN, gedoop 27 November 1695. Clara is ’n jonger suster van Susanna VAN KONINGSHOVEN, gedoop 26 Junie 1689. b1. Sijbrand VERMEULEN, trou op 21 Oktober 1708 met Susanna VAN KONINGSHOVEN. Sijbrand het dus ’n swaer met die name van Jacob MAURITZ, wie ook sy halfbroer is. HIERDIE JACOB MAURITZ IS IN ALLE WAARSKYNLIKHEID SIJBRAND SE HALFBROER ?? ( Bewyse moet egter bekom word) Jan Vermeulen en Catharina van Bengale se testament verwys na Jacob Maurits as “Uijtlandig” Hy het die Kaap dus, in alle waarskynlikheid, voor ca 1715 verlaat, moontlik om by sy eie vader Jacob Mauritz te gaan woon. Die Jacob Maurits wat in 1718 na SA terugkeer is waarskynlik Catharina se seun. Na sy terugkeer na SA ontmoet hy, waarskynlik, deur middel van sy halfbroer en die se vrou Susanna, Susanna se jonger suster, Clara VAN KONINGSHOVEN en trou hy met haar.
Jan se testament en likwidasie- en distribusierekening is onderskeidelik gedurende 1713 en 1715 (MOOC 85/1715) by die kantoor van die Meester van die Hooggeregshof te Kaapstad geliasseer. Alhoewel die presiese datum onbekend is, kan ons aanvaar dat hy ongeveer 1712/13 oorlede is. In die likwidasie- en distribusierekening van Jan wat gedurende 1715 geliasseer is, erf slegs Jacob Mauritz (b6), Jan Rogier (Maria) (b3), Sijbrand (c3) en Johannes (c1) - seuns van oorlede Zÿbrand (Sybrand) (b1) en Dorothea Raats (d.v Wilhelmina (b4). Dit bevestig ook dat Jannetje (b5) jonk oorlede is.Gedurende 1712/3 sterf ongeveer 25% van die Blanke inwoners aan die Kaap as gevolg van ’n pokke epidemie.Ons is oortuig dat Jan en Catharina deel is van hierdie statistiek.
Ons dank aan almal wat ’n bydrae gelewer het om inligting ten opsigte van Jan Willemsz VERMEULEN, maar veral ook Catharina VAN BENGALEN , en Jacob MAURITZ te help versamel en aan ons beskikbaar te stel, veral die volgende persone : Dr. Helena Liebenberg, André van Rensburg, Lorna Newcomb, Mansell Upham, Richard Ball en al die lede van Gen.Forum wat op die een of ander wyse ’n bydrae gelewer het.
Die nageslag van Jan en Catharina is dwarsoor Suid-Afrika en sy ekonomie versprei. Heelwat van hul afstammelinge kan egter in die Wes- Kaap en meer spesifiek in die Bredasdorp, Napier, Stanford en Gansbaai omgewing gevind word. In Gansbaai was daar in 2004 heelwat afstammelinge wat, soos hul stamvader,aan die visserybedryf verbonde was.
Opgestel deur Johan Vermeulen, ongeveer 2011.