Die naam van die Bond is die BOND VAN DIE VERMEULEN FAMILIE en word verder slegs die Bond genoem. Die Bond is ʼn nie-winsgewende organisasie wat met regspersoonlikheid beklee is en kan in sy eie naam as eiser of verweerder in gedinge optree en kan al die handelinge verrig wat nodig is vir die bereiking van sy doelstellings.
Enige persoon wie reeds die ouderdom van 18 jaar bereik het en die draer is/was van die van Vermeulen en wie se ouer/s, voog/de of eggenoot 'n direkte afstammeling is/was van enige een van die twee erkende stamvaders, kan op die voorgeskrewe aansoekvorm om lidmaatskap van die Bond aansoek doen.
Bestuur sal die aansoek oorweeg en kan sodanige aansoek aanvaar, onderworpe aan:
'n Lidmaatskapsertifikaat sal aan alle nuwe lede uitgereik word. Lidmaatskap bly van krag vir solank sodanige lid se jaarlikse lidmaatskapfooie voor 'n vasgestelde datum betaal is.Lidmaatskap word beëindig wanneer ʼn lid versuim om sy lidmaatskap voor ʼn vasgestelde datum te betaal of op aanbeveling van die komitee indien ʼn lid versuim om die doelstellings van die Bond na te kom. Die lid het die reg om teen die beëindiging van sy/haar lidmaatskap beswaar te maak. Lidmaatskap is nie oordraagbaar nie.
Die Bond het goedgekeur dat die volgende persone as ‘n vriend van die Bond toegelaat sal word, indien:
‘n Vriend geniet dieselfde voordele/voorregte as ‘n lid van die Bond. Hy/sy mag egter nie voorstelle indien of stem op ‘n jaarlikse algemene ledevergadering nie. Hy/sy mag ook nie dien as ‘n bestuurslid nie. ʼn Lidmaatskap sertifikaat sal aan vriende uitgereik word wat aantoon dat hy/sy ʼn vriend van die Bond is. ʼn Vriend van die Bond se lidmaatskap kan beëindig word om dieselfde gronde as wat vir ʼn lid geld.
Elke lid het een stem. Stemme word uitgebring deur lede, in persoon teenwoordig op 'n ledevergaderings of deur middel van 'n behoorlik voltooide en ingediende volmag. Indien die volmaggewer nie ʼn spesifieke lid aanwys om hom/haar te verteenwoordig nie, kan die voorsitter sodanige volmag toeken aan enige lid teenwoordig volgens sy keuse. Die volmaggewer en gevolmagtigde moet albei lede wees. Geen lid mag meer as 10 volmagte hou nie.
Die bestuur hou rekord van alle lede/gevolmagtigdes wat ledevergaderings bywoon. Kennisgewing van 'n ledevergadering word minstens dertig dae voor die vasgestelde datum aan volwaardige lede per epos of per pos na die adres wat in die lederegister verskyn,gestuur. Een/sewende van die getal volwaardige lede of twintig (welke getal die kleinste is) vorm 'n kworum op 'n ledevergadering. Die Voorsitter van die Bestuur of in sy afwesigheid, die Voorsitter van die vergadering sit by sodanige vergadering voor en by staking van stemme het hy/sy 'n beslissende stem. Tensy anders hierin bepaal, geskied stemming by wyse van die opsteek van hande. Indien daar na die verloop van een uur na aanvangstyd van die vergadering nie voldoende lede op sodanige vergadering teenwoordig is nie, verklaar die Voorsitter die vergadering nietig.
Daar moet jaarliks 'n algemene ledevergadering gehou word.
Die algemene ledevergadering moet gehou word nie later nie as 6 maande na die sluiting van 'n finansiële jaar.
Die volgende aangeleenthede moet tydens die algemene ledevergadering oorweeg word;
Besluite word geneem en goedgekeur deur 'n meerderheid van stemme.
Notules van die algemene jaarvergaderings word aan lede van die Bond wat vergaderings nie kon bywoon nie, beskikbaar gestel.
7.2. (Bygevoeg op 15.08.2020) Lede- en Bestuursvergaderings kan plaasvind waar lede teenwoordig is soos uiteengesit in die bepalings van hierdie grondwet of deur middel van ʼn virtuele aanlynplatform.Stemming vind plaas soos bepaal deur die vergadering.
Die eerste finansiële jaar strek vanaf datum van stigting tot 28/29 Februarie en daarna vanaf 1 Maart tot 28/29 Februarie, jaarliks.
Die Bestuur van die Bond bestaan uit minstens vier lede. Die bestuur moet die voorsitter, tesourier, sekretaris uit die verkose lede aanwys. Die lede van die Bestuur word op 'n algemene ledevergadering gekies en verrig diens tot die volgende algemene ledevergadering. Enige vakature wat ontstaan weens die uittrede of dood van 'n lid, word tot die volgende algemene vergadering deur die oorblywende bestuurslede self aangevul. Die voorsitter word deur die lede van die bestuur gekies. Een helfte (½) van die Bestuur plus een vorm 'n kworum tydens’n bestuursvergadering. In geval van 'n staking van stemme op 'n Bestuursvergadering het die Voorsitter 'n beslissende stem. Die Voorsitter en nog 'n bestuurslid tree as dagbestuur op om daardie sake te behartig wat die Bestuur spesifiek aanwys. Die Bestuur besluit van tyd tot tyd op die aanvangslidmaatskapfooie en die jaarlikse ledegeld, asook die jaarlikse finale datum waarop ledegeld betaal moet wees. Die uitvoering van alle doelstellings berus by die Bestuur.Die bestuur open 'n bankrekening in die naam van die Bond waarin alle gelde waaroor die bestuur beheer het, gestort word. Die byhou van die finansiële administrasie word hanteer en bygehou deur die tesourier. Die Bestuur wys jaarliks ʼn kundige persoon of lid aan om die finansiële registers en state na te sien voor dit voorgelê word aan die Algemene ledevergadering. Die bestuur sal minstens een keer per jaar vergader. ʼn Notule sal bygehou word van alle bestuursvergaderings en goedgekeur word by die volgende bestuursvergadering.‘n Ledevergadering moet deur die bestuur belê word indien een-sewende van die lede van die Bond ʼn skriftelike versoek, met motivering, tot die bestuur rig dat 'n ledevergadering belê word. Die bestuur reël familiesaamtrekke en handel in die verband op 'n besluit van die lede-vergadering of volgens eie oordeel. Geen lid of bestuurslid deel in die wins of ontvang finansiële voordeel uit die bestuur van die Bond nie en doen geen regsaanspreeklikheid op vir besluite te goeder trou geneem of bloot uit hoofde van sy lidmaatskap van die Bond nie.
Die Bestuur het die volgende bevoegdhede: Om in die algemeen aan die doelstellings vervat in klousule 2 hierbo, volgens eie goeddunke, uitvoering te gee. Om 'n geding in die belang van die Bond in te stel en enige geding wat teen die Bond ingestel word, te verdedig. Om fondse van die Bond te belê by erkende handelsbanke of ander finansiële instellings. Die Bestuur kan enige lid koöpteer tot die Bestuur vir die uitvoering van ʼn spesifieke taak.
Tydens die algemene ledevergadering, kan ere-lidmaatskap aan lede toegeken word. Sodanige lede sal kwytgeskeld wees van alle toekomstige ledegelde en sal dus lewenslank ‘n lid van die Bond wees met behoud van alle lidregte.Die toekenning van ere-lidmaatskap word beperk tot ’n besondere bydrae wat die lid tot die onstaan en voortbestaan van die Bond gelewer het.
Bepalings van hierdie grondwet kan alleen gewysig word by wyse van 'n twee-derde meerderheid van volwaardige lede teenwoordig of per volmag verteenwoordig op ʼn algemene ledevergadering, of ʼn ledevergadering spesiaal vir die doel byeengeroep. Lede moet vooraf kennis kry van die voorgenome wysigings soos bepaal in klousule 7.
Die Bond word op die volgende wyse ontbind:
Grondwet soos goedgekeur in sy gewysigde vorm op die Algemene ledevergadering van 13 Julie 2019 gehou te Fochville.