Ingevolge die Heraldiekwet, Wet nr. 18 van 1962, mag familiewapens slegs gebruik word indien dit by die Buro vir Heraldiek geregistreer is. Slegs die persoon in wie se naam dit geregistreer is mag die wapen gebruik en mag dit slegs by afsterwe van die draer na sy oudste seun oorgedra word.
‘N VERMEULEN FAMILIEWAPEN
In die Kaapse Argief is 'n lakafdruk van 'n VERMEULEN familiewapen. Die afdruk is op 'n brief - gedateer 1774 - afkomstig van 'n Jan VERMEULEN, raadslid van Batavia.
Die wapen bestaan uit:
Gevierendeel:
1. In rooi 'n silwer windmeul van agter gesien;
2. In groen twee inmekaar verstrengelde slange van goud, regop geplaas;
3. In goud drie swart kraaie;
4. In blou 'n golwende paal van silwer.
'n Afdruk van die wapen, in kleur, verskyn in die boek, "Die Groot Afrikaanse Familie-naamboek" deur C Pama.
Aangesien geen bewyse gevind kon word dat enige van die huidige Suid-Afrikaanse VERMEULENS 'n direkte afstammeling, vader tot oudste seun, van die oorspronklike draer van die wapen is nie, kan die wapen nie deur enige van ons VERMEULENS, wetlik, gebruik word nie. Die wapen is ook nie in Suid-Afrika geregistreer nie. Dit sal ook nooit hier geregistreer kan word nie.
Stamvader - Jan Willemsz - is reeds in ca 1659 gebore en is nie ‘n afstammeling van Jan VERMEULEN van Batavia nie!
Stamvader - Dirk Cornelisz is in 1680 gebore en is ook nie ‘n afstammeling van Jan VERMEULEN van Batavia nie!
'n Familiebondwapen mag egter ontwerp en by die Buro geregistreer word. Alle lede van die bond mag so ‘n familiebondwapen dan gebruik.
Dit is 'n metode, ingevolge ons wetgewing, om 'n familiewapen te bekom wat deur ons Suider-Afrikaanse VERMEULEN afstammelinge (lede van die Bond) gebruik mag word.
Hierdie is 'n afbeelding van die VERMEULEN wapen soos wat dit verskyn in Die Groot Afrikaanse Familienaamboek, C Pama. 1983. (Uitgewers: Human & Rousseau)
LET WEL HIERDIE WAPEN MAG NIE DEUR ONS VERMEULENS GEBRUIK WORD NIE
(Magtiging vir die publikasie van die wapen en inligting is aan die BOND VAN DIE VERMEULEN FAMILIE deur die Uitgewers, NB-Uitgewers, verleen.)
n VERMEULEN Familiebond is op 20 Maart 2000 gestig.
‘n Bondwapen is sedertdien ontwerp en deur die Buro vir Heraldiek op 2001-02-23 geregistreer.
Die registrasie van die wapen van die BOND VAN DIE VERMEULEN FAMILIE, verskyn in Staatskoerant, nommer.22068, Goewermentskennisgewing, nommer 166 gedateer 23 Februarie 2001. Registrasieverwysing H4/3/1/3933.
Die Bondwapen geniet nou regsbeskerming kragtens die Heraldiekwet, Wet nr. 18 van 1962.
Die Bond self asook alle wettige lede/vriende van die Bond, is gemagtig om die Bondwapen te gebruik. Lede/vriende moet aandui dat hul ‘n lid/vriend van die Bond is.
UITLEG VAN DIE BONDWAPEN
(i) Kleure: Beide stamvaders is afkomstig vanaf Utrecht, Nederland. Die Nederlandse vlagkleure nl. Blou, Wit en Rooi is dus gebruik.
(ii) Die windmeul: Die meul vorm die basis van die wapen omrede die van VERMEULEN afgelei is van meul/meulenaar.
(iii) Swaarde: Stamvader Jan het aan die Kaap geland as ‘n soldaat in diens van die V.O.C. Die VERMEULENS was verder betrokke by alle oorloë. Die swaarde gedenk dus ons militêre betrokkenheid.
(iv) V- vormige plasings: Die swaarde asook die wit gedeelte waarin die meul geplaas is, is in die vorm van ‘n V wat die van VERMEULEN uitbeeld.
(v) Die Slagspreuk : NON PAREIL: Die slagspreuk word uitgespreek “NO PAREE” en is Vlaamse woorde wat beteken: NIKS BETER NIE.
'n AFDRUK VAN DIE REGISTRASIESERTIFIKAAT UITGEREIK DEUR DIE RAAD VIR HERALDIEK VERSKYN HIERONDER.
Lees artikel HIER